God se Woord VARS vir jou Vandag

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.

  1. 20h ago

    Augustus Nuusbrief 2

    Send us Fan Mail Goeiedag aan al ons VARS-vriende. Ek is Jokkie Gauché en hier is VARSVANDAG se Tweede Nuusbrief vir Augustus.  In moeilike tye soos dié waarin ons vandag leef, wil God hê sy kinders – dis nou ek en jy – moet lewens leef wat betekenisvol is, nè? Hy wil hê ons moet in oorwinning leef. Hy wil hê ons moet dapper opstaan vir Christus. Wanneer ek en jy ons geloof met krag en doelgerigtheid uitleef, gebeur iets wonderliks… God werk déúr ons om ander mense nader aan Hom te bring. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan! Die versoeking is groot om dié idee sommer dadelik af te skryf – Hy kan tog sekerlik nie deur mý werk nie – maar wag net so ’n oomblik. Kyk bietjie hierna:  In Numeri 22:28-33 lees ons dat die Here ’n donkie laat praat het om Bileam se lewe te red. Nou wat dink jy daarvan? God het deur ’n pratende donkie gewerk om Bileam se lewe te spaar en hom op ’n nuwe pad te lei. Ons Hemelse Vader het ’n hart wat verlang dat mense nader aan Hom moet kom. Hy moes ‘n donkie gebruik om Bileam se aandag te kry. Wat moet Hy vandag doen om jou aandag te kry? Luister na sy Stem en wees dapper! Gebruik ook die VARS-boodskappe om hoop te versprei. En onthou, God wil deur jou werk. Ons nooi jou uit om deel te word van die span wat hierdie lewensveranderende boodskappe na miljoene bring. Sal jy vandag saam met ons staan? Jy kan bid dat God deur hierdie boodskappe harte sal aanraak.Jy kan gee: Jou finansiële bydrae maak dit moontlik dat ons die Evangelie kan verkondig.En jy kan jou vriende en familie vertel van VARS wat oor die radio, per e-pos en op potgooi beskikbaar is.Seënwense en mooi loop! Van Jokkie, Annelie en die VARS-span Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  2. 21h ago

    Skoon Huis; Skoon Hart

    Send us Fan Mail 2 Korintiërs 7:1 Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy. Daar is niks soos die gevoel wanneer jy by ’n huis instap wat vars skoongemaak is nie - die vloere blink, die lug is skoon en alles is op sy plek. Jy kan weer asemhaal. Die chaos is weg. Dit voel goed, nè? Maar ’n skoon huis gaan nie net oor netheid nie; dit wys liefde vir die mense wat daar bly, en eerbied vir enige iemand wat by die deur instap. Stel jou nou voor jou hart is daardie huis. Die lewe se rommel hoop maar op - bitterheid in die een hoek, kompromieë in ’n ander. Die stof en gemors van ou gewoontes pak oral aan. Dan, op ’n dag, gee God vir jou die besem en sê: 'Kom ons maak hierdie plek weer nuut.”  2 Korintiërs 7:1sê: Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy. Watter beloftes? Paulus praat oor dít wat hy net voor hierdie vers geskryf het - God se belofte om onder ons te woon, om vir ons ’n Vader te wees en om ons sy seuns en dogters te noem. En dit is die punt. As die Skepper van die heelal kies om in ons te woon, dan moet ons lewens - ons “huis”- sy teenwoordigheid weerspieël. Om van die gemors ontslae te raak, is nie daar om jou skuldig te laat voel of in reëls vas te vang nie; dit is juis daar om jou vry te maak. Dit is om die leuens uit te vee, die trots af te skrop en die bitterheid wat die siel belemmer, uit te gooi sodat vrede kan intrek en vreugde weer kan asemhaal. Wanneer ons God toelaat om die rommel in ons lewens op te ruim, voel ons nie veroordeel nie, maar ons ervaar ’n diepe rus. Dit voel nie soos dwang nie, maar soos om naby Hom te wees. Dis ’n kosbare soort heiligheid - een wat die geur van genade dra en blink met die eer van ’n hart wat reggemaak is vir Hom.  Dit is God se Woord. Vars… vir jou… vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  3. 1d ago

    Verlore Maar Nie Vergete Nie

    Send us Fan Mail Jeremia 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!  Het jy al ooit gevoel asof jy; sonder ’n kaart, ’n kompas of enige idee van hoe om by die huis te kom, in die middel van nêrens is? Sover het jy die lewe nog heel goed hanteer - maar skielik lyk niks meer bekend nie. Dit is presies hoe dit voel wanneer planne in duie stort, wanneer verhoudings verander of wanneer die toekoms vaag lyk. Stel jou ’n trekvoël voor wat in ’n storm beland. Die wind waai hom heeltemal uit sy koers uit—kilometers ver weg van sy swerm, omring deur vreemde bome, ’n vreemde lug en vreemde geluide. Maar selfs in daardie verwarring is daar diep binne-in hom ’n instink—’n drang—om aan te hou vlieg. Want op die een of ander manier het die Een wat hom geskep het, ook die vermoë in hom ingebou om sy weg huis toe te vind.  Dit is wat God gesê het in: Jeremia 29:11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting. Dit is ’n vers wat baie aangehaal word—maar mense vergeet dikwels dat God dit vir Israel gesê het terwyl hulle nog in ballingskap in Babilon was. Gevangenes. Ontwortel. Verlore. Hy het nie ’n kits-redding beloof nie. Hy het vir hulle gesê om huise te bou, tuine te plant en gesinne groot te maak—om te lééf presies waar hulle was, met die vertroue dat sy plan steeds besig was om te ontvou, selfs dáár in ballingskap. Miskien voel jou lewe op die oomblik ’n bietjie soos Babilon—gedisoriënteerd, vertraag of heeltemal van die spoor af. Maar my vriend, selfs dáár het God jou nie verloor nie. Sy planne is nie op ys nie. Sy kompas se naald het nie geglip nie. So, hou aan vlieg. Hou aan vertrou. Dieselfde God wat vir Israel huis toe gelei het, is ook besig om jou te lei—en sy planne, selfs in die storm, is steeds goeie planne. Dit is sy Woord. Vars… vir jou… vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  4. 2d ago

    Hoe die Alledaagse Iets Besonders Raak

    Send us Fan Mail Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Kry jy ook soms die gevoel dat jy net nie inpas nie; dat almal se lewens, behalwe joune, jou gesin s'n of jou situasie, normaal lyk? Wel; jy hoef nie alleen so te voel nie! Daar is iets asemrowends aan ’n pêrel. Dit word gebore uit iets wat nie daar hoort nie; dit vorm wanneer ’n klein korreltjie sand binne-in ’n oester beland. Die meeste oesters filtreer maar net water en is niks besonders nie, maar die een met hierdie "indringer" reageer anders. Dit begin daardie korreltjie laag vir laag oortrek, totdat dít wat aanvanklik gepla het, verander in ‘n absolute pragstuk. Oor die jare word dit heeltemal getransformeer - uniek en anders as elke ander skulp op die seebodem.  Op presies dieselfde manier roep God ons om anders as die wêreld om ons te wees. Ons hoef nie soos die wêreld te probeer wees of hulle waardes oor te neem nie. Ons moet God die kans gee om die 'skaafplekke' in ons lewens te omskep in iets wat straal. Romeine 12:2 sê: Julle moenie aan hierdie wêreld gelyk word nie, maar laat julle verander deur die vernuwing van julle denke. Dan sal julle kan onderskei wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Dit is maklik om maar net saam met die stroom te swem - om soos almal óm jou te dink en te doen net omdat dit makliker is. Maar ware verandering gebeur nie wanneer alles gerieflik is nie; dit gebeur wanneer jy beheer oorgee. Eers wanneer jy God toelaat om jou hele uitkyk en jou prioriteite nuut te maak, begin jou ware skoonheid deurbreek.  Om anders te wees laat jou dalk voel soos die vreemde een in die groep, net soos daardie korreltjie sand. Tog is dit juis dáár waar jy krag kry - om sy wil te ken, in sy spore te volg en sy heerlikheid vir die wêreld te wys." Los dit in God se hande; sodat Hy rustig sy pad met jou kan stap. Want wanneer Hy oorneem, verander die alledaagse in iets bonatuurliks. Dit is sy Woord. Vars… vir jou… vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  5. 3d ago

    ‘n Teësinnige Bekeerling

    Send us Fan Mail 2 Samuel 7:22 Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie  Wat vat dit om ’n lewe te verander? Vir sommige mense is dit nie slim argumente of lang debatte nie – dis ’n ontmoeting met die lewende God wat jy eenvoudig nie kan ignoreer nie. Een van die bekendste ateïste van die 20ste eeu, die skrywer van die Narnia-reeks, C.S. Lewis, het homself eenkeer beskryf as die mees teësinnige bekeerling in die hele Engeland. Hy is nie deur emosie oortuig nie, maar deur die werklikheid van God wat eenvoudig deurgebreek het in sy lewe. Terwyl hy met die waarheid geworstel het, het hy besef dié God wat hy probeer ontken het, was nie net ’n idee nie, maar ’n Persoon. Daardie ontmoeting met Christus het alles verander – die skeptikus het een van die grootste Christelike skrywers van alle tye geword. Koning Dawid het presies dieselfde besef: 2 Samuel 7:22 sê: Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie. Die punt is dat Dawid vir God in aksie gesien het – en hy het gewéét daar is niemand soos Hy nie. Dis die kern van wat die bekende prediker R.C. Sproul gesê het toe iemand hom gevra het wat die verskil tussen die Christelike God en ander gode is. Sy antwoord was eenvoudig: Die grootste verskil is dit – die God van die Christendom bestaan. Die God wat bestaan, is ’n God wat dinge doen. En in Christus het Hy eens en vir altyd ingegryp om jou te red. Moenie net van Hom weet nie. Ervaar Hom. Kyk vandag hoe Hy in jou eie lewe aan die werk is. Want wanneer jy Hom in aksie sien, sal jy ook nie anders kan as om uit te roep: Daar is niemand soos U nie. Daar is geen God buiten U nie!  Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  6. 4d ago

    Van Intimiteit tot Gehoorsaamheid

    Send us Fan Mail Psalm 19:15 Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.  Het jou eie woorde jou al ooit in die moeilikheid gebring? Dink aan 'n aanmerking wat jy gemaak het sonder om te dink, 'n kwaai uitbarsting, of 'n leuen wat aan die begin onskuldig gelyk het, maar later so groot geword het dat jy beheer daaroor verloor het? Ons almal verstaan daardie tipe hartseer en spyt. Gedurende die Watergate-skandaal in die 70’s het invloedryke mans in Amerika ontdek presies hoe gevaarlik geheime gedagtes en woorde kan wees. Geheime opnames in President Nixon se kantoor het gesprekke verklap wat sy hele presidentskap laat tuimel het. Woorde wat net vir die binnekring bedoel was, het op die lappe gekom en die magtigste man in die wêreld laat val. Ek en jy loop dieselfde gevaar wanneer ons geheime gedagtes en woorde allesbehalwe eervol is, nè? Koning Dawid het daardie gevaar in sy eie lewe geken. Daarom het hy hierdie gebed gebid: Psalm 19:15: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.  Weet jy wat dit is? Dis ’n eerlike uitroep om God te vra vir integriteit. Gister het ons gesien dat diegene wat ontsag vir God het, in sy binnekring genooi word. Dis daar waar Hy sy beloftes met ons deel en ons selfs uit die moeilikheid help.  Uit daardie naby vriendskap vloei hierdie begeerte: Here, laat elke woord en elke gedagte van my in lyn wees met U hart. En in Christus word daardie gebed waar. Hy verlos ons; Hy is ons Rots. Deur sy Gees verander Hy dít wat ons regtig wil hê. Hoe nader ons aan Hom kom, hoe sterker word ons verlange om Hom in alles te volg. Moenie net jou tong probeer beheer nie. Soek God se teenwoordigheid op. Smag na daardie intimiteit met Hom. Laat Hy jou hart so verander dat elke woord en elke gedagte vir Hom vreugde bring. Dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  7. 5d ago

    God se Voorkomende Beskerming

    Send us Fan Mail Psalm 25:14-15 Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.  Het jy al ooit vasgekeer gevoel? Asof daar onsigbare nette om jou styftrek, ongeag wat jy doen? Vrees, versoeking, spyt... dit voel soms net onmoontlik om los te breek.  Augustinus van Hippo het geweet hoe dit voel wanneer God se vriendskap jou lewe heeltemal omkeer. Vir jare het hy plesier, ambisie en slim planne nagejaag, maar niks kon hom regtig gelukkig maak nie. Sy lewe was vol vrees en moedeloosheid.  Maar toe hy Christus ontmoet, het sy oë oopgegaan vir die grootheid van God se waarheid. Hy het verander van ’n slaaf van die sonde tot een van die grootste denkers in die kerkgeskiedenis. Sy bekende boek, Confessions, is die eerlike storie van ’n man wat totaal nuut gemaak is deur sy vriendskap met God. Psalm 25:14-15 sê: Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. Gister het ons gesien hoe vers 14 vertel dat God die mense wat Hom eer, in sy binnekring intrek. Hy deel die geheime van sy onbreekbare beloftes met hulle. Dis hoekom die skrywer so vol vertroue na die Here kyk; hy weet dat God Self vir hom veilig uit elke strik en deur sy moeilikhede sal help. Omdat God sy hart en sy beloftes aan ons bekendmaak, kan ons seker wees daarvan dat wanneer die nette van die lewe styftrek, God Self sal ingryp en ons vrymaak. Wat ’n belofte is dit nie!  My vriend, deur Jesus is dit óns werklikheid. Hy het ons verwelkom as God se vriende en by die kruis vir ons gewys hoe groot sy genade is. Wanneer ons met ontsag vir Hom lewe en ons oë op Hom hou, sien ons eerstehands hoe Hy ons beskerm en bevry - ’n vryheid wat net Hy kan gee. Dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

  8. 6d ago

    Ek wil Jou ‘n Geheim Vertel

    Send us Fan Mail Psalm 25:14 Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.  Daar is iets vreeslik lekker en aanloklik aan ’n geheim, nè? Om te wag dat iemand jou genoeg vertrou om een te deel, voel kompleet of jy op die drumpel van iets groots staan. Sodra jy deel word van daardie "binnekring", verander alles sommer dadelik.  Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was net ’n handjievol mense by Bletchley Park in Engeland vertrou met die oorlog se grootste geheim – die ontsyfering van Duitsland se Enigma-kodemasjien. Hulle was ’n klein, eksklusiewe groepie wat in die geheim gewerk het en die loop van die geskiedenis verander het. Geheime – die goeies altans – is presies so. Hulle het enorme krag om dinge te verander, maar nie almal weet daarvan nie. As jy daaroor dink, is dit juis wat ’n geheim ’n geheim maak. Psalm 25:14 sê: Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. As jy die Here eer, is jy sy vriend. Hy vertrou jou met sy geheime en leer jou presies waarop jy in sy beloftes kan staatmaak. En in Christus word daardie waarheid selfs nog groter. Jesus het vir sy dissipels in Johannes 15:15 gesê: Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Deur ons geloof in Hom is ek en jy nie meer buitestanders nie. Ons is binnekringmense –welkom in die raadsaal van God Self. Dink net daaraan! Dit laat ’n mens se kop sommer draai. Moet dus nie tevrede wees met ’n geloof wat net op die oppervlak lê nie. Gee vandag ’n tree nader. Leef met ontsag vir Hom en ontdek die vreugde daarvan om God se vriend te wees - sy vennoot wat in sy binneste sirkel welkom is. Dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

About

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.