Pinelands Gemeente

Pinelands Gemeente

Preke, gesprekke en meditasies vanuit Pinelands Gemeente se wandel met God.

  1. Sep 20

    2026 09 20_Jer 36:20-26_Reddingsboot

    Pinelands Gemeente · NG Kerk, Kaapstad Konings – of knoeiers? · 'n Reeks oor Israel se konings vir koninkrykstydJeremia 36:20–2620 September 2026Preek 8 van 8 In 1807 het 'n sendingorganisasie 'n Bybel vir slawe in die Wes-Indiese eilande laat druk waaruit die eerste agtien hoofstukke van Eksodus weggelaat is: die mak God wat reëls gee, was aanvaarbaar — nie die wilde God wat noodkrete hoor en teen die Farao's van die wêreld opstaan nie. Dit is 'n growwe weergawe van wat koning Jojakim in Jeremia 36 doen. Dit is 605 v.C., die Babiloniese leër is in die land, 'n vasdag word uitgeroep, en Barug lees drie-en-twintig jaar se prediking hardop in die tempel voor. Waar Josia verlede week die boekrol gehoor en sy klere geskeur het, sny sy seun die boekrol vel vir vel af en gooi dit in die vuur — 'n "vertoning van onverskilligheid" (Eugene Peterson) wat die waarheid met 'n pennemes op 'n afstand hou. Maar die verhaal eindig nie by die vuur nie: God sê skryf dit weer, en Barug voeg "nog baie soortgelyke woorde" by. Vyf werkwoorde dra die verhaal — vat, skryf, hoor, omdraai, vergewe — en wys 'n God wat iets te sê het en gehoor wil word, juis in 'n krisis. Peterson vra watter een boek jy op 'n verlate eiland sou kies, en antwoord: Butler's Practical Guide to Boat-Building. So is die Bybel 'n woord aan skipbreukelinge, 'n reddingsboot waarmee 'n verlore samelewing sy weg huis toe vind — en dié boot bou ons saam, nie as private vlot vir my en my gesin nie. Die preek vra dit konkreet oor die nege vroue wie se liggame die afgelope twee maande in Ekurhuleni gevind is en oor 'n vrouemoordsyfer vyf keer die wêreldgemiddeld: wat moet ons hoor, en wat is die inkeer wat God van ons vra? Ná agt Sondae se konings wat kom en gaan, bly nie 'n koning oor nie, maar die Woord wat nie brand nie — steeds besig om, in Johan Degenaar se woorde, van Christene mense te maak. Lees die preek in MetgeselDie volledige preekteks, gespreksgids en verdere hulpbronne is beskikbaar in ons Metgesel-app:www.pinelandsgemeente.co.za/metgesel — — — Ondersteun ons gemeenteMaak 'n bydrae via SnapScan pinelandsgemeente.co.zainfo@pinelandsgemeente.co.za

    2026 09 20_Jer 36:20-26_Reddingsboot

About

Preke, gesprekke en meditasies vanuit Pinelands Gemeente se wandel met God.