Hoop Nogtans

Francois Bredenkamp

Hoop Nogtans bediening deur Francois Bredenkamp https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://www.youtube.com/@HoopNogtans

  1. 1d ago

    DIE KRUIS IS GENOEG!

    Jare gelede, toe ons kinders nog klein was, is ons êrens heen op pad. Die pad was lank, die kinders raak verveeld, en begin stry met mekaar oor iets onbenullig. Ek doen wat ek dink my vaderlike plig is. Ek begin ‘n lesing oor hoe onaanvaarbaar hulle gedrag is. En wat ek van hulle verwag. En toe gebeur die totaal onaanvaarbare. Ek hoor kliphard van agter af: “Bla! Bla! Bla!” In die middel van ‘n sin raak my woorde op. Ons het geen disrespek toegelaat van ons kinders nie. En toe sien ek dit, ‘n massiewe vertoonbord langs die pad met ‘n advertensie vir ‘n selfoonmaatskappy met die woorde, “Bla! Bla! Bla!” groot daarop geskryf. Wat my dogter dáár gelees het, het alles oorheers wat ek besig was om te sê! Wat sy gesien het, was op daardie oomblik belangriker as wat sy verkeerd gedoen het. Wat sy gesien het, was belangriker as wat ek daarvan gedink het. En dìt, sê Paulus, is wat met die Galasiërs gebeur het toe hulle die evangelie die eerste keer gehoor het. Niks anders het saak gemaak nie. Die kruisdood van Jesus Christus en die redding wat Hy bewerk het aan die kruis, oortref by verre enigiets wat hul afgodstempels kon aanbied. Die boodskap van God se genade is soveel beter as waaroor die filosowe praat. Die boodskap van die kruis in uniek. Die kruisdood van Christus is voldoende. Maar iets onverklaarbaar het gebeur. Joodse gelowiges het daar aangekom nadat Paulus weg is en ‘n ander evangelie kom verkondig, ‘n valse evangelie, die boodskap dat wat Jesus Christus aan die kruis bewerk het, is nie genoeg nie. Hulle leer die Galasiërs hulle moet die wet onderhou, al die gebooie van die Ou Testament. Hulle moet besny word. Hulle moet sorgvuldig hou by die gebruike wat die J**e so sorgvuldig nakom. Galasiërs 3:1 O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Wat met die Galasiërs gebeur het, gebeur vandag nog. Ek praat meer hieroor in ny preek DIE KRUIS IS GENOEG!

    DIE KRUIS IS GENOEG!
  2. 1d ago

    Moenie iets probeer byvoeg by dit wat Jesus klaar gedoen het nie

    Vir honderde jare het pelgrims die Kerk van die Heilige Trappe in Rome besoek. Volgens oorlewering is die Scala Sancta dieselfde trappe waarteen Jesus in die paleis van Pontius Pilatus moes opstap. Daar is 28 trappe. Pelgrims kom van heinde en ver om op hulle knieë teen hierdie trappe uit te kruip. Op elke trap word daar gebid. Die gedagte daaragter is eenvoudig: Hoe groter die inspanning, hoe groter die beloning. Hoe meer jy ly, hoe meer verdienste verwerf jy. Só wen jy die guns van God. Só ontvang jy vergifnis. Só behaag jy God. Só probeer ’n mens die glimlag van God oor jou lewe verdien. Maar niks kan verder van die evangelie af wees nie. Jy kan tienduisend trappe op jou knieë uitkruip totdat die bloed loop. Jy kan tienduisend gebede opsê totdat jy nie meer asem het nie. Jy kan jouself uitput in godsdiens, goeie werke en opofferings. Maar niks daarvan kan jou sonde wegneem of God se guns vir jou verdien nie. Die evangelie verkondig presies die teenoorgestelde: In Jesus Christus het God reeds alles gedoen wat nodig is om jou te red. Alles wat nodig was om jou met God te versoen, is deur Jesus Christus aan die kruis volbring. Jy hoef nie God se genade te verdien nie. Genade wat verdien word, is immers nie meer genade nie. Enige leer of gebruik wat uiteindelik steun op wat óns moet doen om deur God aanvaar te word, bots lynreg met die evangelie. Die boodskap van Galasiërs 2 is: Moenie iets probeer byvoeg by dit wat Jesus klaar gedoen het nie.

    Moenie iets probeer byvoeg by dit wat Jesus klaar gedoen het nie
  3. Jul 7

    God verwelkom jou!

    In 1973 word die liedjie “Tie a yellow ribbon round the ole oak tree” vrygestel. Die liedjieskrywers vertel van ‘n man wat na drie jaar in die tronk vrygelaat word. Hy skryf ‘n brief aan sy beminde. Hy is nie seker of sy hom terug gaan verwelkom nie. Hy skryf hy gaan die bus neem en by haar huis verby ry. As sy hom nog wil hê, moet sy ‘n geel strik om die ou akkerboom bind. Dit sal vir hom die teken wees dat hy welkom is. Maar as sy intussen vir iemand anders lief geraak het, sal hy verstaan en net verby ry. If I don’t see a ribbon round the ole oak tree I’ll stay on the bus, forget about us, put the blame on me Wat hy sien, oortref sy verwagting. Daar is 100 geel strikke om die ou akkerboom. Hy kan die boodskap nie mis nie. Hy is so welkom terug! Die evangelie van God se genade sê vir jou: Jy is welkom! God verwelkom jou! Ongeag wat gebeur het. Wat die evangelie van God se genade nie vir jou sê nie, is die volgende: Jy is welkom, maar oppas! Ek hou jou dop! Jy is op dun ys. Dink jy die man in die liedjie het elke oggend gaan kyk of daar ‘n geel strik is om te sê hy is welkom? Net om seker te maak hy is goed genoeg? Nou hoekom dink ons ons moet God se genade bly verdien, nadat Hy dit reeds aan ons geskenk het omdat ons dit nooit kon verdien het nie? Ons redding is 100 persent gebaseer op die genade van God. Daar is nie ruimte vir ‘n fraksie van selfs een persent van ‘ek moet dit verdien’ nie. Enigiets wat klink na “Christus Plus Nog Iets” is ‘n verdraaide evangelie. Dis ‘n vervalsing van die ware evangelie, ‘n bedreiging vir ons geloofsekerheid, en ‘n belemmering vir hulle geestelike groei. Die apostel Paulus skryf aan die Galasiërs en wat hy sê, wys duidelik hoe ernstig hierdie Christus Plus Nog Iets is. Hierdie verdraaide evangelie is net so tuis in die kerk vandag as wat dit vir die Galasiërs. En baie mense besef nie hulle is vasgevang in ‘n valse leer nie.

    God verwelkom jou!
  4. Jul 7

    Alles wat verkeerd is in my lewe kan reggestel word

    Op 25 September 2000 neem ‘n jongman met die naam Kevin Hins die bus na die bekende Golden Gate brug in San Francisco. Hy kan net aan een ding dink. Spring van die brug af. Maak ‘n einde aan alles. Die stemme in sy kop moedig hom aan. Hy het bipolêre depressie, en is psigoties. In sy boek “Cracked, not Broken: Surviving and Thriving after a Suicide Attempt” skryf Kevin Hins, die oomblik toe hy spring, toe besef hy dit was die verkeerde ding om te doen. Dis 67 meter na benede. Dit neem hom 4 sekondes voor hy die water tref. Die eerste sekonde voel hy die wind. Die tweede sekonde sien hy die water vinnig nader kom. Die derde sekonde besef hy, daar is geen probleem in sy lewe wat nie reggestel kan word nie, behalwe hierdie fout wat hy gemaak het. Net drie sekondes is nodig om ‘n nuwe perspektief op die lewe te kry. Maar hy besef dis te laat. Die vierde sekonde tref hy die water, voete eerste, breek drie rugwerwels, en een enkel. Hy roep uit, “Ek wil nie doodgaan nie, God. Ek het ‘n fout gemaak.” Hy vertel dat ‘n seeleeu hom bo die water gehou het totdat die Kuswag hom kom red het. Dit neem hom lank om te herstel, en vandag is hy ‘n kampvegter om mense te help wat selfmoord wil pleeg. Drie sekondes om te besef: Alles wat verkeerd is in my lewe kan reggestel word. Ek wil nie doodgaan nie. Ek lees daar was omtrent 1800 selfmoorde van hierdie brug af sedert 1937. Net 35 het die val oorleef. Hoeveel van die 1800 het te laat besef, ek wil nie doodgaan nie? Hoeveel het besef, al is my probleme hier op aarde oorweldigend, ek het ‘n fout gemaak? Die besef het te laat gekom. In Psalm 142 vertel Dawid hoe hy gevoel het toe hy die laagste punt in sy lewe bereik het. En hoe God hom gehelp het. Dis ‘n woord vir elke persoon wat so oorweldig voel deur alles wat verkeerd is dat hulle dit ernstig oorweg om ‘n einde aan alles te maak.

    Alles wat verkeerd is in my lewe kan reggestel word
  5. Jun 27

    Maak saak waar dit die meeste saak maak

    Soms sê een foto meer as duisende woorde. 5 Junie 1989 is die dag ná die bloedige onderdrukking van wekelange studenteprotes op Tiananmen-plein in Beijing. ‘n Toneel speel af amper 40 jaar later nog steeds ver buite die grense van China onthou word. 'n Reeks tenks van die Chinese Volksbevrydingsleër het deur die strate van Beijing vanaf die Tiananmen-plein deur die strate van Beijing beweeg. Skielik stap 'n onbekende man, geklee in 'n wit hemp en donker broek, met twee inkopiesakke in sy hande, die straat in en gaan staan reg voor die voorste tenk. Hy was alleen. Geen wapen. Geen beskerming. Geen politieke mag. Net een gewone man wat geweier het om uit die pad te staan. Toe gebeur iets merkwaardigs. Die tenk stop. Wat hy doen, is uiters waaghalsig. Daar was berigte van tenks wat nie gestop het nie. Hierdie keer stop die tenk. Wanneer die tenk probeer om verby te ry, skuif die man weer voor hom in. Weer en weer blokkeer hy die tenk se pad. Vir 'n paar minute speel daar 'n verstommende kontras af: die geweldige mag van die staat teenoor die moed van een onbekende burger. Fotograwe in omliggende hotelle het die toneel vasgelê. Onder hulle was die Associated Press-fotograaf Jeff Widener, wie se foto wêreldwyd gepubliseer is. Die beeld van die sogenaamde "Tank Man" het een van die mees ikoniese foto's van die twintigste eeu geword en word steeds beskou as een van die kragtigste simbole van een persoon wat stand inneem teenoor oorweldigende mag. Maar vir daardie paar minute het een onbekende man die vooruitgang van 'n hele kolom tenks tot stilstand gebring. Nie deur geweld nie. Nie deur mag nie. Nie deur status nie. Maar deur die moed om te staan waar ander sou wegvlug. Vandag se boodskap: MAAK SAAK WAAR DIT DIE MEESTE SAAK MAAK. Dis Vadersdag (in Suid-Afrika – nie in Australië en Nieu-Seeland nie; ons wag tot September). My boodskap is primêr vir Pa’s, maar geld vir elkeen wat nodig het om te staan vir wat belangrik is wanneer niemand anders saam staan nie: MAAK SAAK WAAR DIT DIE MEESTE SAAK MAAK. Ons leer saam met Gideon hoe in Rigters 6

    Maak saak waar dit die meeste saak maak
  6. Jun 27

    Ons kan nie God se weë altyd verstaan nie

    Iemand het vertel hoe die kabeljou bedryf in die noordooste van die VSA gesukkel het om vars kabeljou betyds by die markte ver van hul af te kry. As hulle dit vries, gaan iets van die smaak verlore. Hulle het toe begin om die kabeljou lewend in tenks met seewater te vervoer. Die vis se smaak was toe nie na wense nie, en die tekstuur ietwat papperig. Uiteindelik was iemand baie kreatief. Hulle het ’n ander soort vis in die kabeljoutenks gesit – ’n katvis. Die katvis is die natuurlike vyand van die kabeljou. Gedurende die hele reis het die katvis die kabeljou deur die tenk gejaag. Toe die vis uiteindelik by hul bestemming aankom, het die kabeljou gesmaak asof dit pas uit die see gevang is. Die tekstuur was uitstekend, en die smaak selfs beter as voorheen. Met hierdie storie wou die persoon verduidelik dat God dikwels moeilike omstandighede, seerkry en teleurstelling gebruik om iets moois in die lewens van sy kinders te bewerk. Die boodskap wat die persoon wou oordra, is waar. Die storie wat hy vertel, is nie waar nie. Kabeljou is ‘n soutwatervis. Katvis leef in vars water. Hulle is nie natuurlike vyande nie. Daar is geen rekord dat kabeljou en katvis ooit saam vervoer is om die kabeljou vars te hou nie. Die persoon se bedoeling was dalk goed. Hy probeer iets wat ons nie verstaan nie, verstaanbaar maak. Maar kan ons regtig God se handelinge verstaan? Ek dink nie so nie. En ‘n opgemaakte storie help nie juis nie. Ons kan nie God se weë altyd verstaan nie. Ons kan net vashou – baie styf vashou – aan wat Hy in die Bybel aan ons openbaar. Romeine 8:28 is een van daardie verse wat geweldige bemoediging en hoop gee wanneer alles in ons lewe deurmekaar loop. Ek deel graag ‘n paar insigte hieroor

    Ons kan nie God se weë altyd verstaan nie
  7. Jun 20

    Die onveranderlike getrouheid van God

    Onlangse navorsing oor die grootste bekommernisse wat bejaarde mense vandag beleef, kan opgesom word as bekommernis oor wat van hulle gaan word soos hulle ouer word. Eerste op die lys van bekommernisse is kommer oor hulle gesondheid en onafhanklikheid. Hulle wonder, “Sal ek vir myself kan bly sorg? Wat gaan van my word?” Tweede op die lys, kommer oor finansiële sekuriteit. “Sal ek genoeg hê vir die toekoms?” Derde op die lys van bekommernisse is eensaamheid. “Sal ek op my eie, verlate en geïsoleer wees?” ‘n 2024 opname onder Australiese seniors bevind dat meer as 60% van mense ouer as 50 sukkel om vir noodsaaklike dinge te betaal. Meer as die helfte sê finansiële stres beïnvloed hulle sosiale lewe. Dis duidelik uit die navorsing dat inflasie en stygende koste groot angs oor die toekoms veroorsaak. Behuising is een van die grootste bekommernisse. Hierdie soort bekommernisse is niks nuuts nie. In Psalm 71 vind ons ‘n pragtige gebed van ‘n bejaarde. Rofweg 3000 jaar gelede bid hy: Psalm 71:9 NLV 9Moenie my eenkant toe stoot noudat ek oud geword het nie. Moenie my verlaat wanneer my kragte afneem nie. Maar hierdie ou mens is nie vasgevang in bekommernis oor oud wees nie. Dis die getuienis van 'n ouer gelowige. Toe hy terugkyk oor sy lewe, het een waarheid bo alles uitgestaan: God het hom nog nooit in die steek gelaat nie. Hierdie psalm is 'n lied van vertroue wat rus op drie waarhede: • God se sorg in die verlede • God se sorg in die hede • God se sorg in die toekoms Die psalmdigter se vertroue berus nie op sy eie krag, sy sterk finansiële situasie, of sy hegte familiebande nie. Hierdie dinge kan oornag verdwyn. Hy steun op die onveranderlike getrouheid van God. Kom kyk gerus saam met my na Psalm 71

    Die onveranderlike getrouheid van God
  8. Jun 1

    Ons het ‘n Redder nodig

    Ek staan ‘n paar jaar gelede voor City Hall in San Francisco. Dit laat my dink aan die Uniegebou in Pretoria. Die belangrikste regeringskantore in San Francisco is in hierdie imposante gebou. In 1989 word die gebou deur ‘n aardbewing beskadig, en ‘n projek word geloods om die gebou te beveilig teen aardbewings in die toekoms. Dit het behels dat hulle die bestaande fondasie moes versterk, maar hoe doen mens dit met ‘n massiewe gebou soos City Hall. Wat hulle moes doen om die gebou te beveilig, was om ‘n uitgebreide stelsel van rubber-en-staal isoleerders te installeer onder die bestaande gebou, wat die skokgolwe van ‘n aardbewing kan absorbeer en sodoende skade aan die gebou sou beperk. Dit beteken die hele fondasie is oorgedoen. In San Francisco weet hulle hoe belangrik ‘n goeie fondasie is, en geen koste word ontsien om ‘n goeie fondasie vir City Hall te verseker nie. Die belangrikheid van ‘n gebou se fondasie kan seker nie oorbeklemtoon word nie. Hoe lyk die fondasie waarop jou kind se lewe gebou is of gebou word? Wat is vir jou kind die belangrikste waardes vir hulle lewe? Die storie van Sisera, opgeteken in Rigters 5, illustreer baie treffend wat gebeur as die verkeerde waardes ingebou is in ‘n kind se hart – deur sy ma, in hierdie storie. Die volk van die Here word vir 20 jaar wreed onderdruk deur ‘n Kanaanitiese koning met die naam Jabin. Sy weermaghoof was ‘n man met die naam Sisera, ‘n sadistiese vyand van Israel. Hy het God se volk genadeloos laat swaar kry. Die Israeliete staan op teen Jabin onder leiding van Debora, ‘n profetes. Sisera se leër word verpletter. Sisera self vlug te voet en kom by die tent van Jael. Sy was ‘n Keniet, ‘n groep mense in Kanaan wat Israel goedgesind was. Sy nooi hom in haar tent, gee hom iets te drinke, en laat hom slaap. Sisera dink hy’s veilig, maar Jael neem ‘n tentpen en slaan dit deur sy slaap tot in die grond. ‘n Wrede dood vir ‘n baie wrede man. Debora, die profetes, gee perspektief op wat gebeur het in haar loflied, opgeteken in Rigters 5:22-30.

    Ons het ‘n Redder nodig

About

Hoop Nogtans bediening deur Francois Bredenkamp https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://www.youtube.com/@HoopNogtans