VOORKOMING VAN SEERKRY IN DIE KERK: Ek onthou nog goed die Saterdagoggend voordat ek verwelkom sou word deur die nuwe gemeente wat my beroep het. Ek is vinnig by Game in om ‘n paar goedjies vir ons nuwe blyplek te kry. Twee mans staan en gesels, en my oor vang, “By watter gemeente aanbid julle nou?” Waarop die ander man antwoord, “Ons gaan nie meer kerk toe nie; ons het seergekry in die kerk...” ‘n Ongemaklike stilte het in die lug bly hang. Wat sê mens vir iemand daar in die middel van ‘n besige winkel? Dis amper al soos ‘n idioom in die volksmond om te praat van ‘seerkry in die kerk’, so algemeen is die gevoel by so baie mense dat hulle getraumatiseer is in die kerk. Mense beleef dieselfde simptome wat iemand beleef wat deur ‘n intense traumatiese ervaring gegaan het. Die simptome is baie soos dié van post-traumatiese stres steurnis - intense angs en paniek, nagmerries, gedagtes wat oor en oor maal oor ‘n saak, flashbacks, en ander onaangename simptome. Wat met hulle in die kerk gebeur het oefen steeds ‘n wurggreep uit op hul emosies. Hoe meer hulle daarvan wil wegkom, hoe minder suksesvol is hul hierin. Die één plek waar mense veilig en gekoester moes voel, waar hulle liefde, aanvaarding en vergifnis moes beleef het, het die plek van trauma vir hulle geword. Kerk was veronderstel om die plek te wees waar hulle met liefde omring word. In plaas van liefde, daardie gesindheid van “ons is hier vir jóú; hoe kan ons jou help?” beleef mense dat hulle in die gemeente is vir die voordeel wat hulle vir die kerk bring. Hulle word met oop arms verwelkom, solank hulle van waarde is. Die boodskap wat hulle hoor, is nie een van ware omgee vir húlle nie, maar een van ‘Gee!” Gee jou tyd, gee jou tiende, gee jou talente, gee jou teenwoordigheid. Kerk is waar hulle ware aanvaarding moes aanvaar, daardie gesindheid van “ons oordeel jou nie; ons gaan jou liefhê en God toelaat om in jou lewe te werk soos Hy wil en teen Sy tempo en soos jy gereed is daarvoor.” Maar wat hulle ervaar het is dat hul eerder verdoem word vir die tekortkominge in hul lewe. Hul voel min aanvaarding; eerder skande en verwerping. Kerk is waar vergifnis uitgeleef moet word. In plaas van vergifnis, “God vergewe jou sonde en ons ook; ons gee jou nog ‘n kans, en nog ‘n kans, en weer nog ‘n kans, want dit is hoe God met óns doen,” kry hulle eerder te doen met ‘n gedurige foutvindery, genadelose kritiek, verdagmakery, en die kwetsende skindertong. En so word die plek van aanbidding ‘n toksiese plek, wat sleg vir jou kan wees; gevaarlik vir jou, nie alleen vir jou geestelike lewe nie, maar vir elke aspek van jou lewe. Traumatiese ervarings in die kerk sny ‘n baie diep seer in mense se harte. Ons kom aan die einde van Paulus se brief aan die Galasiërs. Met ‘n boodskap vir die kerk vandag. As ons die boodskap verontagsaam, word die bymekaar kom van God se mense toksiese plekke waar mense diep seerkry. Uit wat hy die apostel Paulus skryf in sy laaste paar sinne kry ons ‘n goeie idee hoe lyk ‘n kerk wat mense misbruik en gaan seer maak. En dit hoef nie so te wees nie.