KLETS

Van politiek tot polimiek, en van nuwe perspektiewe tot aweregse menings – Colene en Matthys laat niks ongesê nie. Saam met kundiges en ander lekker en interesante mense pak hulle die onderwerpe aan wat ons wêreld vorm. Elke Woensdag iets nuuts. Kom KLETS Saam! Word deel van die gesprekke wat jou laat dink en dalk selfs jou wêreldbeskouing verander

  1. Hitte, Hormone en Hoofopskrifte

    -1 J

    Hitte, Hormone en Hoofopskrifte

    Hierdie week se KLETS begin nie met politiek nie. Dit begin met hitte. Daai Gauteng-hitte wat jou laat wonder of jy in Pretoria, Pofadder of binne-in ’n pizza-oond woon. Matthys is oortuig sy breinselle het begin saamsmelt, en Colene probeer vasstel of dit die hitte, menopouse, andropouse of net die nuus is wat almal so laat sweet. Wat gaan Cupcake in sy Staatsrede sê ná die G20? Gaan dit weer groot beloftes wees? Ons kyk terug na verlede jaar se SONA en vra, hoe het 'Onse Cyril' gevaar? Die waterkrisis, veral in Gauteng, raak al hoe minder ’n waarskuwing en al hoe meer ’n realiteit. Die Nasionale Gesondheidsversekering klink steeds soos ’n plan wat meer papier as praktyk het. En die Transformasiefonds? Dis daai fonds wat glo almal moet help… net nie almal nie. John Steenhuisen hang sy bokshandskoene op. Wie klim nou in die ring? Wie skuif op in die top-posisies? En wie sit stil en hoop niemand vra moeilike vrae nie? Intussen bly Gayton besig met alles wat nie dringend is nie en speel "Naam, Dier, Dorp", en die storie van Vermiste Tannie Mariana laat ’n mens ongemaklik rondkyk. Want in Suid-Afrika raak feite soms verdag en gerugte loop vinniger as water deur ’n stukkende pyp. En ja, lus is ’n lelike ding. En tussen al die hitte, hormone en hoofopskrifte deur herinner ons onsself: krane kan droogloop, leiers kan skuif, maar die hoop… die hoop beskaam nie. Dis hitte. Dis hormone. Dis leierskap wat skuif, krane wat droogloop maar die hoop beskaam nie! Dis Suid-Afrika soos hy nou is. Dis KLETS. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    1 h 4 min
  2. Donder, Bliksem, Dis steeds Januarie

    28 JANV.

    Donder, Bliksem, Dis steeds Januarie

    Dis Januarie. Nogsteeds. En asof die jaar self dit wil bevestig, breek Gauteng oop met ’n moerse donderstorm terwyl Matthys en Colene die mikrofone aanskakel. Perfekte weer vir ’n KLETS vol hoop, verwarring en ligte paniek. In hierdie week se episode gesels ons oor daardie emosionele rollercoaster van Januarie. Die vakansie is verby, die out-of-office is af, en skielik onthou jy weer hoekom jy in Desember belowe het: “Volgende jaar gaan anders wees.” Elke jaar dink ons Januarie gaan sag met ons wees, rustig, dalk selfs beter. En elke jaar tref die ongemaklike realiteit van “ek weet nie waar dit heen gegaan het nie” nie ’n finansiële strategie is nie. Januarie-salarisse het ’n unieke talent om in te kom en weer te verdwyn sonder dat jy eers asemhaal. Een van die oomblikke wat bly, is Colene se aanhaling: “Try again is the softest form of rebellion, but it rewrites everything.” ’n Sagte herinnering dat aanhou probeer, al voel jy moeg, steeds ’n vorm van weerstand is teen moedeloosheid. Natuurlik kyk ons ook na die nuus. Nuwe SARS-wetgewing wat jou nou nooi om verdagte dinge aan te meld van oor jou friende, familie en kollegas - die kan interessant raak. Lego en Crocs span saam om iets te skep wat niemand voor gevra het nie, Suid-Afrika word weereens geteister deur 'n dreigende waterkrisis en ons KLETS oor die impak van semigrasie op Kaapstad. En dan die groot vraag: wat sal gebeur as die aarde vir sewe sekondes sy swaartekrag verloor? Dis die laaste Woensdag in Januarie 2026. Dis donner. Dis bliksem. Dis KLETS. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    53 min
  3. Wat Wag vir Suid-Afrika in 2026?

    14 JANV.

    Wat Wag vir Suid-Afrika in 2026?

    In deel twee van ons Astrologie KLETS oor 2026 bring ons alles terug huis toe. Die groot wêreldbewegings is een ding, maar wat beteken dit alles vir Suid-Afrika, ’n verkiesingsjaar, en vir jou persoonlik? Saam met Catherine Laurent kyk ons na die Suid-Afrikaanse politieke klimaat in 2026, ’n jaar waar druk, verwagtinge en magspeletjies nie meer agter geslote deure gaan bly nie. Die sterre wys duidelik dat die verkiesingsjaar nie stil of netjies gaan verloop nie. Daar is skuifwerk, herposisionering en name wat begin opduik waaroor mense fluister. Is Suid-Afrika op pad na nóg ’n “oorgang”, of staan ons op die rand van ’n werklike magsverskuiwing? Maar dis nie net politiek nie. Op grondvlak gebeur daar ook dinge wat hoop en ironie in een asem bring. Suid-Afrika het glo van die slimste matrikulante in sy geskiedenis opgelewer, jong mense met breinkrag en potensiaal. Die vraag bly net: in watter land gaan daardie breine uiteindelik hul toekoms bou? Intussen leer ons dat die DA se kredietkaart darem nie vir John se lyfie verantwoordelik is nie, en dat ministers steeds hoog en ver vlieg op die belastingbetaler se rekening, asof ekonomiese realiteite iets is wat net gewone mense raak. En dan, vir die deel waarvoor almal wag, die 12 sterretekens. Catherine vat ons deur wat 2026 vir elke teken inhou, met temas van begin, beweging, druk en keuses wat nie meer uitgestel kan word nie. Dis nie ’n jaar vir wegkruip nie. Dis ’n jaar vir posisie inneem, persoonlik én kollektief. Hierdie episode is minder oor voorspellings en meer oor voorbereiding. Minder oor vrees en meer oor bewussyn. Want of jy nou glo in sterre of nie, een ding is seker: 2026 gaan vra dat jy wakker moet wees. Dis politiek, astrologie, realiteit en ’n paar ongemaklike waarhede. Dis Suid-Afrika in ’n verkiesingsjaar. En dis KLETS. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    1 h 15 min
  4. Begin, Beweeg, Besluit: Wat 2026 Bring en Inhou

    7 JANV.

    Begin, Beweeg, Besluit: Wat 2026 Bring en Inhou

    In die heel eerste episode van KLETS skop ons 2026 af met konteks eerder as chaos, en met patrone eerder as paniek. Ons KLETS met die astroloog Catherine Laurent in hierdie eerste deel van ’n twee-delige reeks, waar ons kyk na siklusse, getalle en wêreldwye energieverskuiwings wat 2026 gaan vorm. Hierdie episode is oor die groot prentjie. Volgens numerologie is 2026 ’n 1-jaar. Dis nie ’n jaar van afronding of herstel nie, dis ’n nuwe begin. ’n Jaar van selfstandigheid, inisiatief en rigting kies. Die tipe jaar waar jy nie meer kan wag vir toestemming nie. Jy begin. Jy waag. Jy beweeg, al voel dit soms ongemaklik. Dis minder “kom ons kyk” en meer “kom ons doen”. In Oosterse astrologie kyk ons ook die Jaar van die Vuurperd binne. Die Perd bring beweging, onafhanklikheid en momentum. Voeg vuur by, en jy kry energie wat vinnig beweeg, intens voel en nie daarvan hou om vasgehou te word nie. Dis ’n jaar wat verandering afdwing, nie deur fyn onderhandeling nie, maar deur aksie. Dinge gebeur vinnig. Soms voor almal gereed is. Van daar af maak ons die lens wyer en kyk na die internasionale speelveld. Moontlike spanningspunte. Magsverskuiwings. Ekonomiese druk. En die tipe wêreldgebeure wat mens nie voorspel nie, maar wel kan raaksien as jy weet waarna om te kyk. Hierdie is nie doemprofesieë nie. Dis patroonlees. Dis voorbereiding. Dis om te verstaan hoekom sekere jare voel soos hulle “harder praat” as ander. Hierdie episode lê die fondasie. In deel twee bring ons alles huis toe. Ons kyk na Suid-Afrika, die politiek, die GNU, en wat 2026 moontlik vir elk van die twaalf sterretekens inhou. As jy eers wil verstaan voordat jy reageer, dan begin die jaar hier. Dis nie ’n kristalbal nie. Dis ’n kompas. Mag die gras groen wees waar jou bokke wei, dit reën waar jou lusern geplant is en mag jou krale vol lammers wees! Happy 2026! Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    1 h 12 min
  5. Die jaar is klaar, die kos is afgelewer

    17/12/2025

    Die jaar is klaar, die kos is afgelewer

    Dis die laaste KLETS van 2025. Suid-Afrika is halfpad afgeskakel, die verkeer bestaan net in ou herinneringe, WhatsApp-groepe het verdwyn, en almal belowe weer dat 2026 “anders” gaan wees. Jy weet, soos elke jaar. Dis dus die ideale oomblik om terug te kyk, bietjie asem te haal, en eerlik te wees oor wat ons werklik hierdie jaar gedryf het. Spoiler alert: dit was nie altyd waardes of visie nie. Baie keer was dit kos. In hierdie finale KLETS van die jaar sit Matthys en Colene om die tafel met die 2025 Uber Eats Cravings Report. Ons kyk na waarna Suid-Afrikaners regtig gesmag het om te eet, hoeveel keer ’n mens Uber Eats kan bestel voordat dit tegnies deel van jou persoonlikheid raak, en hoeveel ure van ons lewens gespaar is omdat niemand meer energie gehad het vir die vraag “wat eet ons vanaand?” nie. Ons kyk ook terug na die afgelope week se politieke t"akeaways", daardie laaste styftrekkings van 2025 se politieke drama. Groot beloftes, groter verklarings, en daai bekende stilte net voor almal vir die vakansie verdwyn. Wat bly oor as die geraas gaan lê? Wat was net nog ’n jaar-einde rookskerm? Dan twee meningspeilings oor die veiligste lande in die wêreld. Waar pas Suid-Afrika in? Is veiligheid iets wat jy meet, iets wat jy voel, of iets wat jy eers ernstig opneem wanneer dit nie meer daar is nie? En vir nagereg sluit ons af met 'n storie van ’n 15-jarige se sukses wat jou laat terugleun en dink: “Ag, so dis hoe produktiwiteit dan kan lyk.” Nie as inspirasie-preek nie, maar as stille herinnering dat party mense ongelooflike dinge regkry sonder Tiktok en Instagram reels daaroor. Dis ’n episode oor honger en vervulling, oor tyd wat gespaar is en tyd wat vermors is, oor kos, politiek, veiligheid en mense wat probeer sin maak van ’n jaar wat vinniger verby is as wat enigiemand beplan het. Dankie dat jy in 2025 saam met ons ge-KLETS het. Sit die foon neer, skink nog iets in, en luister saam na die laaste gesprek van die jaar. 2026? Dan kyk ons weer wat ons belowe. Gaan goed, gaan groot en onthou aan die anderkant van 40 is 'n babelaas soms nodig! Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    1 h
  6. Trump blink, DSTV sink en Afrikaanse boeke skitter

    03/12/2025

    Trump blink, DSTV sink en Afrikaanse boeke skitter

    In hierdie week se KLETS "beklets" ons alles van wêreldpolitiek, plaaslike “affairs”, kultuur, wyn, inkopies, en natuurlik ’n paar Suid-Afrikaanse oorwinnings. Trump het op 1 Desember 2025 die G20 oorgeneem in tipiese Trump-styl, met 'n gebalde vuis en selfversekerd, met sy belofte dat “The Best is Yet to Come”. Ons vermoed hy bedoel nie vir Suid-Afrika nie, maar hey, dis mos nie nuus nie. Wat wel nuus is: as jy ’n lesbeen is, kan jy volgens nuwe gerugte bietjie ligter asemhaal, want jou kans vir HIV-blootstelling is glo heelwat laer as jou ander broers en susters. En natuurlik kry Matthys sy weeklikse Steenhuisen-steek in, want tradisie is tradisie. DSTV bloei steeds subskripsies soos ’n kraan met ’n strip oopgedraai, en nou gaan daar waarskynlik nog 12 kanale van die boeket verdwyn net betyds vir Kersfees. MultiChoice, baie dankie vir die geskenk. Maar gelukkig is dit nie net slegte nuus nie. Die Top 100 Afrikaanse boeke van die afgelope 100 jaar is aangekondig. En as jy in jou middeljare is, het jy ten minste een van hulle gelees – óf onder protes op skool, óf omdat Daleen Matthee se bostriologie jou hart in jou borskas laat bons het. En kom nou… watter Afrikaanse huis is volledig sonder Kook en Geniet van tannie SJA de Villiers? Intussen maak Isabella Niehaus en Louis Janse van Vuuren weer internasionale nuus. Hulle boek There’s a Vegan on my Verandah het nóg ’n Gourmand World Cookbook Award ingepalm, hierdie keer as die beste vegan kookboek van die afgelope 30 jaar. Luister weer na ons onderhoud uit 2023 met Isabella Niehaus - https://afrikaans.radio/klets/die-grande-madame-langebaan/ Bartho Eksteen Wynlandgoed, saam met Maroela Media, het ’n reeks unieke wynbottels geskep wat Afrikaanse ikone vereer. Nou kan jy met trots én tanniene ’n glasie klink op ’n Suid-Afrikaanse legende. En as jy ons gesprek met Bartho en Pieter Willem gemis het, luister hier: https://afrikaans.radio/klets/wyn-woorde-en-waardes/ Colene sluit die episode af met die 2025 trending Kersgeskenke, én die lys van die mees gekaapte voertuie in Suid-Afrika. Moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie. Dis politiek, kultuur, bietjie krisisbestuur en ’n hele sak vol idees vir Kersgeskenke. Dis KLETS. Afrikaans.Radio · KLETS · KLETS - YouTube

    1 h

Notes et avis

5
sur 5
3 notes

À propos

Van politiek tot polimiek, en van nuwe perspektiewe tot aweregse menings – Colene en Matthys laat niks ongesê nie. Saam met kundiges en ander lekker en interesante mense pak hulle die onderwerpe aan wat ons wêreld vorm. Elke Woensdag iets nuuts. Kom KLETS Saam! Word deel van die gesprekke wat jou laat dink en dalk selfs jou wêreldbeskouing verander

Plus de contenus par Afrikaans.Radio

Vous aimeriez peut‑être aussi