Stellenbosch Gemeente

SG Web

'n Lewe wat IETS BETEKEN

Episodes

  1. 18 MAR

    NA-LEEF gedagte | Gelukkig is jy wat huil (2)

    Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder. . . Na-leef gedagte — Gelukkig is jy wat huil… Treur is treurige woord. Dit klink te abstrak, te stil, te onsintuiglik, te innerlik. Huil is ’n tragies tasbare woord. Dit is meestal sigbaar, hoorbaar, kan selfs geproe word. Wanneer jy iemand vashou wat huil kan jy die ontsteltenis fisies voel. Huil is lastig lyflik. Hierdie week wonder ek oor Jesus se onverwagse “Geseënd is die wat treur…” in die lig van huil en vertaal dan die gedagtes in korter poëtiese gedagtes… Gelukkig is jy wat huil Gelukkig is jy wat huil want jou siel is nie verdor nie. Gelukkig is jy wat huil want jou hart is nie versteen nie. Gelukkig is jy wat huil want jou lyf is nie verwyderd nie. Gelukkig is jy wat huil want jou trane verklap jou menslikheid, jou afhanklikheid, ons nog maar oppad wees. Gelukkig is jy wat huil met trane, of net ’n sug, want jy ontdek weer jou eie weerloosheid,     jou klein,                  afhanklik, kind wees. Gelukkig is jy wat huil want jou trane ontbloot wat vir jou belangrik is. Gelukkig is jy wat huil want jou trane dwing jou verby die oppervlak van jou bestaan. Gelukkig is jy wat huil want jou trane stop jou geskarrel, vra jou om hier te wees, verlos jou van ontvlugting. Gelukkig is jy wat huil oor ’n geliefde se dood, want hul lewe het gewig gehad, jou hart bewoon, meer as net jou sintuie geraak. Julle was die rare wonder van geliefdes-van-mekaar. Gelukkig is jy wat huil oor ander se seer, want hulle dra dit nie alleen nie. Gelukkig is jy wat huil oor ’n gebroke werklikheid, want jy behoort aan ’n groter heelheid:     ’n geloof in goedheid,     ’n hoop op herstel,     ’n liefde vir skoonheid. Gelukkig is jy wat huil want jou trane verlos jou van die greep van tydelikheid. Gelukkig is jy wat huil want jy sal kan glo in ’n God wat huil — ’n God met ’n hart, ’n teenwoordige God, ’n God wat saam treur, ’n God wat hoop. Gelukkig is jy wat saam met ander kan huil, want jy sal ook saam met hulle lag, saam met hulle vier. Gelukkig is jy wanneer jy erken — dit is swaar om te huil. Want diep in ons almal woon ’n verlange na ’n wêreld waar trane net lagtrane of trane van verwondering is. Na-leef teks Johannes 11:35-36 – by Lasarus se graf Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Lukas 19:41-42 Toe Jesus nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.”  Na-leef vraag Met of sonder trane: Waaroor huil jy? / Waaroor sou jy wou huil? Hoekom huil/sug jy hieroor? Ek vra dié vraag versigtig, nie met een of ander onsensitiewe oplossing in gedagte nie: Veronderstel hierdie trane het ’n versteekte wysheid, ’n waarde binne God se koninkryk wat nie noodwendig binne die wêreld waarbinne ons leef herken word nie – wat sou die wonder van hierdie trane dalk kon wees?

    7 min
  2. 18 MAR

    NA-LEEF gedagte | Geseënd is dié wat huil (1)

    Luister hier na die klankopname of op die potgooi-platform van jou keuse of lees die blog-inskrywing hier onder. . . Na-leef gedagte — Geseënd is dié wat huil (1) Treur is treurige woord. Dit klink te abstrak, te stil, te onsintuiglik, te innerlik. Huil is ’n tragies tasbare woord. Dit is meestal sigbaar, hoorbaar, kan selfs geproe word. Wanneer jy iemand vashou wat huil kan jy die ontsteltenis fisies voel. Huil is lastig lyflik. Hierdie week wonder ek oor Jesus se onverwagse “Geseënd is die wat treur…” in die lig van al nege die saligspreuke en vertaal dan die gedagtes in korter poëtiese gedagtes… Geseënd is dié wat huil Geseënd is dié wat huil wanneer die gewig van die lewe deur hul skanse breek, hul voorgee stroop en die waarheid tot trane vloei — want dit is hier waar ons onthou ons was nooit bedoel om die wêreld alleen te dra nie. Geseënd is dié wat huil oor wat verloor is —     ’n geliefde stem wat stil geword het,     ’n stoel wat leeg staan by die tafel,     ’n lewe wat skielik verander het— want rou is liefde wat nêrens anders het om heen te gaan nie— as om te besef hoe hul liefde jou gevind het nie. Geseënd is dié wat huil, wat weier dat die wêreld hul verhard. In ’n tyd wat eis ’n rots-van-Gibraltar, deurweek trane die hart, tot vrugbare grond wat nooit sal versteen nie. Geseënd is dié wat huil omdat hul ontsteld word oor wat verkeerd is in die wêreld—     geweld waar daar vrede moet wees,     gierigheid waar daar genoeg moet wees. Hul trane verlang na heelheid — verbind hul aan ’n ander moontlikheid, sleur hul mee tot geregtigheid . Geseënd is dié wat huil met die trane van ’n ander se seer. Wanneer ander se trane in jou hart loop lê beweeg God se genade reeds, omhelsend, verby alle twyfel heen. Geseënd is dié wat huil wanneer waarheid illusie deurbreek— die stof afwas van vensters van die siel— dat ons helder kan sien wat in ons gerief vermy, geklee, vertroetel word. Geseënd is dié wat huil eerder as om terug te slaan; wat in die middel, eerder as aan ’n kant, gaan staan; wat vrede se ewigheidspas bo kits kunsmatige wraak verkies. Hul trane hou beide die pole vas, skilder waterwerf landskappe wat die verbeelding van almal verras. Geseënd is dié wat huil omdat hul ten koste van hulself probeer om reg te doen — want trane troos teleurstelling, voed verlange, vloei tot ‘n volgende tree op die pad wat lewe gee. Geseënd is dié wat huil wanneer hul liefdesoffer misbruik word want hulle sal onthou—     liefde se krag,     liefde se vreugde,     liefde se lewe, leef in die gee. Geseënd is dié wat huil — want hulle sal ontdek, onthou, glo in ’n God wat huil oor ’n wêreld wat verward is oor wat seën werklik is. Mag jou elke traan in die lewegewende stroom van God se trane drup. Mag jou elke sug uitnooi na inasem van ’n Gees-deurweekte lewe. Al is dit snikkend.   Na-leef teks Johannes 11:35-36 – by Lasarus se graf Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Lukas 19:41-42 Toe Jesus nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.”    Na-leef vraag Met of sonder trane: Waaroor huil jy? / Waaroor sou jy wou huil? Hoekom huil/sug jy hieroor? Ek vra dié vraag versigtig, nie met een of ander onsensitiewe oplossing in gedagte nie: Veronderstel hierdie trane het ’n versteekte wysheid, ’n waarde binne God se koninkryk wat nie noodwendig binne die wêreld waarbinne ons leef herken word nie – wat sou die wonder van hierdie trane dalk kon wees?

    6 min

Ratings & Reviews

4.9
out of 5
7 Ratings

About

'n Lewe wat IETS BETEKEN